Nostalgooi

’n Reeks van nostalgiese potgooi-onderhoude met die baanbrekers en legendes van die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. Besoek gerus ons webwerf: www.klipkouers.com A series of nostalgic podcast interviews with the trailblazers and legends of the Afrikaans entertainment industry.

Listen on:

  • Apple Podcasts
  • Podbean App
  • Spotify
  • Amazon Music
  • iHeartRadio
  • PlayerFM
  • Samsung
  • Podchaser
  • BoomPlay

Episodes

Episode 12: Sonja Herholdt

Monday Sep 26, 2022

Monday Sep 26, 2022

Sonja Herholdt, die ‘Meisie van Nigel’, is reeds die afgelope bykans 50 jaar die ‘Liefling’ van Afrikaanse musiek.
Sy het in die sewentigerjare ’n wegholtreffer met die liedjie ‘Ek verlang na Jou’ gehad, wat haar fenominale sangloopbaan van stapel gestuur het.
Met nog ’n rits treffers, insluitende ‘Die Trein na Matjiesfontein’, ‘Harlekyn’, ‘Jantjie’ en ‘Waterblommetjies’, word sy die enigste Afrikaanse sangeres wat ses jaar in ’n ry aangewys was as SARIE se Beste Sangeres van die Jaar.
Herholdt se ereplek in die Afrikaanse musiekbedryf is onteenseglik, maar oor die afgelope klompie jare het hierdie dinamiese blondekop haarself ook onderskei as ’n kampvegter vir ‘vrouwees’ en motiveringspreker van formaat.
Haar verhaal is een van ongelooflike inspirasie…

Episode 11: Boet Pretorius

Thursday Sep 01, 2022

Thursday Sep 01, 2022

As 'n musiekregisseur, -vervaardiger en -verwerker, is Boet Pretorius ongetwyfeld ’n legende, en pionier, in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf.
Volgens Pretorius het hy egter bloot sy passie nagevolg.
Van die talle kunstenaars wat hy oor die jare met hul musiekloopbane bygestaan het, sluit in Die Briels, Gé Korsten, Min Shaw, Lance James, Groep Twee en Carike Keuzenkamp.
Nadat hy aanvanklik by Brigadiers Musiek sy loopbaan begin het, het Pretorius in 1981 die platemaatskappy Decibel Musiek op die been gebring, wat ongeveer 130 goue en 15 platinum plate sou oplewer.
Hoewel daar hope talent daarbuite is, glo Pretorius dat dit nie die kunstenaar is wat ’n liedjie maak nie, maar wel die liedjie wat die kunstenaar maak…

Episode 10: Annie Malan

Monday Jul 25, 2022

Monday Jul 25, 2022

Hierdie blonde bondeltjie dinamiet het geen bekendstelling nodig nie.
As ’n diep gelowige mens, glo Annie Malan dat ‘die engeltjies’ vir haar op 11-jarige ouderdom die rol van Nina in Fiela se Kind gegee het, 34 jaar gelede…
Met opvolgrolle in, onder andere, Saartjie, Supersnuiters, ’n Pot Vol Winter, en Glaskasteel, het sy haar gevestig as ’n kinderaktrise van formaat.
Hoewel sy steeds nou en dan voor die kameras verskyn, het Malan van jongs af ook ernstige besigheidsaspirasies gehad, en, nadat sy aanvanklik naam gemaak het in die versekeringsindustrie, bedryf sy die afgelope 19 jaar haar eie direkte bemarkingsmaatskappy.
Volgens haar is entrepreneurskap nie iets wat ’n mens leer nie; dis ’n leefwyse…

Episode 9: Lydia Winchester

Friday Jul 08, 2022

Friday Jul 08, 2022

Lydia Winchester kan nie sing of ’n instrument bespeel nie, maar het een van die skerpste ore in die Afrikaanse musiekbedryf.
As promotor, het sy ’n beduidende rol gespeel in die loopbane van huishoudelike name soos Gé Korsten, Anneli van Rooyen, Rina Hugo, Carike Keuzenkamp, André Schwartz, Lance James en die grapjas Bill Flynn, en was sy selfs skakelbeampte vir die Reggae-legende Eddy Grant.
Winchester se loopbaan in die musiekbedryf het bykans 40 jaar gelede posgevat, toe sy deur die platevervaardiger Boet Pretorius aangestel was as skakelbeampte van die Decibel-platemaatskappy.
Hierdie dinamiese vrou is reeds met talle toekennings vereer, onder andere ’n Ghoema vir lewensbydrae, en haar motto is eenvoudig: Die lewe is ’n lied, en môre lyk dit anders…

Episode 8: Gert van Tonder

Friday Jun 24, 2022

Friday Jun 24, 2022

‘Daar’s niks soos ware liefde…’
Dit was Groep Twee se wegholtreffer in die sewentigerjare.
Gert van Tonder het nog daardie ware liefde vir musiek.
Op ’n hupse 81 jaar sing hy steeds en is hy versot daarop om nog soveel genot aan mense te verskaf.
As ’n jongman, het Van Tonder homself gevisualiseer as ’n sanger, as ’n liedjieskrywer, as ’n omroeper, as ’n akteur.
Dit was inderwaarheid metafisika, wat hy later sou bestudeer, en hy kon, danksy harde werk, sy drome verwesenlik.
Van Tonder praat padlangs oor hoe hy en sy Groep Twee-sangmaat, wyle Sias Reinecke, Afrikaanse musiek in ’n opwindende nuwe rigting help stuur en selfs die weg gebaan het vir tendense soos die luisterliedjie-beweging.

Episode 7: Hannes Noëth

Friday May 27, 2022

Friday May 27, 2022

Nostalgooi Seisoen 1 is moontlik gemaak deur Helpende Hand. Ons wou meer weet van hulle dinamiese leier, Hannes Noëth en sy span:
Hannes het sy roeping nog altyd beskou as dié van ’n ‘boodskapper wat mense van ’n hooplose einde na ’n lewe vol eindelose hoop help begelei’.
As predikant in die Gereformeerde Kerk, het hy vir 17 jaar in die bediening gestaan.
Hannes het egter nog altyd ’n passie gehad vir Suid-Afrika en sy mense.
Toe die geleentheid hom dus voordoen om direkteur van Solidariteit se Helpende Hand-beweging te word, het hy dit aangegryp en Hannes staan nou reeds vier jaar aan die stuur van die goeie werk wat die organisasie verrig.
Hy benadruk egter dat Helpende Hand fokus op gemeenskapsontwikkeling en die opheffing van gemeenskappe, m.a.w. 'n sosiale opbrengs op hulle beleggings eerder as blote skenkings.

Episode 6: Sandra Prinsloo

Friday May 13, 2022

Friday May 13, 2022

Sandra Prinsloo is, soos resensent Barry Ronge dekades gelede opgemerk het, ’n nasionale skat.
Haar groot deurbraak op die verhoog was Siener in die Suburbs, terwyl The Gods Must Be Crazy haar internasionale roem laat verwerf het op die silwerdoek. In altwee produksies het Prinsloo teenoor Marius Weyers gespeel, wat haar verlief laat raak het op toneelspel en met wie sy tot vandag ’n spesiale chemie deel.
Na 55 jaar in die bedryf, het hierdie bekroonde aktrise nog geen planne om briek aan te draai nie, en is sy tans te sien in die aanlyn blitssepie Die Testament.
Prinsloo se groot wens is dat meer fondse beskikbaar gestel word vir kuns wat mense werklik tot nadenke stem.

Episode 5: Anton Goosen

Friday Apr 29, 2022

Friday Apr 29, 2022

Anton Goosen staan nie verniet as ‘Liedjieboer’ bekend nie.
Hy het letterlik as kind op ’n kleinhoewe begin musiekmaak, waar die plaashulp, Jantjie (Lui dit ’n klokkie?), hom geleer melk, rook en kitaarspeel het!
’n Meer plat op die aarde mens is daar nie, maar Goosen se musiek is allermins platvloers.
Hy is diep, met ’n ontsaglike kennis van musiek.
En, ’n fenominale vermoë as liedjieskrywer.
Sy musiek het dikwels die owerhede uitgedaag, soos ‘Boy Van Die Suburbs’, wat meer as 80,000 kopieë verkoop het, maar aanvanklik byna verban was.
Wat die gebruik van ironie om protes aan te teken teen sosiale ongeregtighede betref, kan Goosen met reg bestempel word as die Bob Dylan van Afrikaans.

Episode 4: Lochner de Kock

Friday Apr 15, 2022

Friday Apr 15, 2022

Lochner de Kock erken dat hy nooit geweet het wat hy wil doen nie.
Toe doen hy maar sy naam gestand.
Die naam Lochner is afgelei van die Skotse riddersnaam ‘Lochinvar’, en ’n ridder moet dien. Lochner dien al vir bykans 50 jaar Suid-Afrikaanse gehore, hetsy as akteur, sanger, omroeper, skrywer of sjef. Hy was selfs ’n sweefstokkunstenaar in ’n Londense sirkus! Praat van veelsydigheid!
Sy eerste liefde bly egter die verhoog. Want, sê Lochner, die verhoog het geen grense nie, en hy put sy inspirasie uit die wisselwerking van emosies tussen akteur en gehoor.

Episode 3: Jannie du Toit

Friday Apr 01, 2022

Friday Apr 01, 2022

Ek wens dat jy jou liedjie vir ons kon sing…
Wel, Jannie du Toit het, vir Nostalgooi, presies dit gedoen.
Hierdie gevierde sanger en liedjieskrywer, en pionier van die Musiek-en-Liriekbeweging, gee ook vir ons ’n blik op sy legendariese loopbaan van 50 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf.
Vir hom staan woord-toon verhoudinge voorop, en hy vertel van hoe wyle Christa Steyn sy tekste tot hul reg laat kom en hoe hulle saam blyspele regoor die wêreld op die planke gebring het.
Onlangs het die ATKV ook ’n werkswinkel, ‘’n Nuwe Baadjie’, van stapel gestuur waartydens Du Toit met opkomende talent werk om nuwe lewe in van sy ikoniese liedjies te blaas.

Image

Your Title

This is the description area. You can write an introduction or add anything you want to tell your audience. This can help potential listeners better understand and become interested in your podcast. Think about what will motivate them to hit the play button. What is your podcast about? What makes it unique? This is your chance to introduce your podcast and grab their attention.

Jacques Basson

Version: 20240320